Die oud-leerlinge van Hoërskool Garsfontein maak naam by Statebondspele
Die oud-leerlinge van Hoërskool Garsfontein is besig om vir hulself naam tydens die Statebondspele in Birmingham, Brittanje te maak. Garsies se alumni het reeds ‘n hand in drie van Suid-Afrika se ses goue medaljes tot dusver in Birmingham gehad. Die 19-jarige Lara van Niekerk het twee goue medaljes tydens die spele verower. Sy het haar rolmodel en Olimpiese-kampioen, Tatjana Schoenmaker, in die 100m rugslag met ‘n wentyd van 1 minuut en 5.47 sekondes geklop.
Van Niekerk het ook vroeër Suid-Afrika se eerste medalje van die spele verower toe sy die 50m borsslag in ‘n Statebondspele-rekordtyd van 29.73 sekondes gewen het. Du Toit het haar eerste driekuns in ‘n internasionale wedstryd behaal in haar span se reuse sege van 15-0 oor Kenia. Du Toit het op die ou einde met vyf doele, almal van trekhoue van strafhoeke af, opgeëindig.

Jean-Leigh du Toit
Dit is Suid-Afrika se grootste sege sedert 2014 op die Statebondspele. Die vrouespan het in 2014 vir Trinidad & Tobago met 16-0 pakslae gegee. Shaun Williams is ‘n lid van die Blitsbokke wat verlede week ook goud verower het toe hulle vir Fidji met 31-7 in die eindstryd afgeslag het. Dit is slegs die tweede keer dat die Blitsbokke as kampioen van die Statebondspele gekroon is. Die vorige keer was in 2014 toe die Statebondspele in Galsgow, Skotland aangebied is.
Boonop tree die matriekleerling Brian Raats Vrydag in die eindronde van die o.20 Wêreldkampioenskap in Kolombië vir die hoogspring aan. Raats het vroeër in die week gekwalifiseer na hy slegs twee spronge op onderskeidelik 2.04m en 2.08m benodig het om tot die eindronde deur te dring. Hy is die enigste atleet wat vir die eindronde gekwalifiseer het sonder om ‘n sprong te verbrou. Sy beste hoogte vanjaar was toe hy tydens ‘n Grand Prix-byeenkoms op 2.26m oor die dwarslat geseil het.