Zwarries sing Goud los by ATKV Applous landsfinaal
Die Hoërskool Zwartkop skoolkoor, onder leiding van mnr. Anton Pottas het vanjaar weer uitsonderlik presteer by die ATKV Applous koorkompetisie.
Hulle het in die hoërskole ope-afdeling op streeksvlak deelgeneem en deurgedring na die landsfinaal met ’n Goue-toekenning.
Die landsfinaal het 28 tot 30 Julie in Pretoria plaasgevind en 4 – 6 Augustus in die Kaap. Die wenners van al die onderskeie afdelings is na afloop van hierdie optredes, regstreeks aangekondig.
Hoërskool Zwartkop is met ’n ongelooflike 82,6% (Goud) beloon en eindig algeheel vyfde in die hoërskole ope-afdeling.
“Dit was ’n wonderlike ervaring vir my en so ook vir elke koorlid. As afrigter is dit vir my ’n baie groot voorreg om met hierdie talentvolle kinders te kan werk. Ek is baie trots op hulle”, het mnr. Anton Pottas na afloop van hul optrede gesê.
Dit is ’n ongelooflike prestasie en die Zwarries is baie trots op hierdie spog-span.