HTS John Vorster se solarkarspan hou aan groei
Ilanga Uitdaag Byeenkoms – Genuine JV Solarkar (Marlize Kantor). HTS John Vorster se solarkarspan, Genuine JV, was een van die spanne wat tussen 19 en 22 Julie 2022 deelgeneem het aan die Ilanga Uitdaag Byeenkoms te Red Star Raceway in Delmas. Die skool se kar, paslik genoem die Voltwagen, het ‘n derde plek behaal gedurende die byeenkoms.
Ook heel gepas is “Ilanga” die Zulu woord vir son. Die Ilanga Uitdaag Byeenkoms is nie ‘n wedren nie maar is ‘n kring-uithou byeenkoms daarop gemik om spanne die geleentheid te gee om hul ingenieursvernuf ten toon te stel en, met toekomstige generasies in gedagte, om grense te versit wanneer dit kom by volhoubare energie- en mobiliteitsoplossings.
‘n Solarkar is basies solarpanele op wiele met ‘n battery om energie te stoor en ‘n motor wat dit vorentoe dryf. Vir hierdie soort voertuie is effektiwiteit mees belangrik. Die soeke na effektiwiteit dryf innovering. Al die solarkarre wat deelneem is enig in hul soort aangesien dit deur die verskillende spanne ontwerp en gebou word en nog nie kommersieel beskikbaar is in die mark nie.
Die COVID-19 pandemie het die Genuine JV span se droom om aan kompeterende byeenkomste deel te neem in die wiele gery. Die pandemie het egter nie hullle entoesiasme gedemp nie en die span was gemotiveerd en voorbereid om hulle kompeterende debut te maak tydens die Ilanga Uitdaag Byeenkoms . Al hulle harde werk aan die Voltwagen, het vrugte afgewerp.
Die Ilanga Uitdaag Byeenkoms was voorafgegaan deur twee dae van kriteria inspeksies en oefenritte. Die Voltwagen het uitstekend gevaar, ‘n aanduiding van ‘n stabiele ontwerp. Tydens die inspeksie word die veiligheidsaspekte van die solarkar asook die bestuurders van die kar getoets in lyn met die byeenkoms se regulasies. Slegs karre wat die inspeksie slaag, word toegelaat om deel te neem aan die byeenkoms. Spanne kan in een van drie kategorieë deelneem naamlik Avontuur/”Adventure” (nie-kompeterend), Uitdager/”Challenger” of Reisiger/”Cruiser”.
Die Ilanga Uitdaag Byeenkoms het ses panne ingesluit, met twee hoërskole, universiteite en privaat ingeniuersgroepe wat ingeskryf het. Die spanne se aanpassingsvermoë was verder getoets gedurende ‘n oortrokke derde en finale dag waartydens spanne op gestoorde battery-energie moes staatmaak en hul strategieë moes aanpas.
Die span se derde plek gedurende die byeenkoms is ‘n getuienis van die span se deursetingsvermoë onder die mentorskap van die Tshwane Universiteit van Tegnologie en word moontlik gemaak deur industrie borgskappe. Die Solarkarprojek is ‘n suksesverhaal van waar tersiêre en sekondêre instansies hande neem om die praktiese toepassing van STEM vakke in regte wêreld omstandighede te implementeer.
Die Genuine JV span is tans besig om voor te berei vir die Sasol Solar Challenge wat gehou word tussen 3 en 16 September 2022. Tydens die byeenkoms gaan Suid-Afrikaanse en internasionale spanne poog om te ry met hul solarkarre vanaf Johannesburg na Stellenbosch. Die Genuine JV span is een van slegs twee skole spanne wat hierdie uitdaging gaan aanpak.