Laerskool Randhart Graad 1 Ekspo
Die Ranties verwelkom voornemende Rakkers en graad 1’s by die Ekspo.Op Saterdag 7 Mei, met die reuk van gebraaide boerewors in die lug en vrolike musiek wat in die agtergrond speel, het Laerskool Randhart met groot afwagting na die voornemende Rakkers en graad 1’s van 2023 se aankoms by die Ekspo uitgesien.
Die skattige kleuters en hul ouers is entoesiasties verwelkom en daar was duidelike opwinding te bespeur. Besoekers kon hulle vergewis van al die sport- en kultuurkodes wat by die skool aangebied word. Selfs eksterne vennote van Laerskool Randhart het pragtige stalletjies beman, sodat ouers ’n geheelprentjie kon kry van wat die skool alles aan hul kinders kan bied.

Me. Gerber, Me. Steenkamp, Me. Barnard
By sommige stalletjies kon die kleuters aan sekere aktiwiteite deelneem om hul vaardighede op die proef te stel – onder andere doele gooi, tennisballe slaan, ’n abstrakte kunswerk skilder of om hulle langasems uit te toets. Die meeste kleuters het met vlieënde vaandels geslaag!
Gaste kon die skoolterrein, graad 1-klaskamers, mediasentrum en die rekenaarsentrum verken. Daarna kon hulle weglê aan sappige boereworsrolle wat deur die Ondersteunersklub verskaf is. Me. Gerber kon nie uitgepraat raak oor die energie van die besoekers tydens hierdie spesiale geleentheid nie en sy is baie in haar noppies met die voornemende Rakkers en graad 1’s wat in 2023 by die Rantiefamilie gaan aansluit.