LS Baanbreker kry nuwe hoof en waarnemende adjunkhoof
Banies kry ‘n nuwe hoof:
Amanda Cook is gebore op 6 Maart 1967 in Boksburg. Sy begin haar skool loopbaan by Laerskool JM Louw en voltooi dit by Hoërskool Voortrekker in 1985.
Amanda verwerf haar Onderwysdiploma by Goudstad Onderwyskollege in 1988. Die kollege skryf dat Amanda ‘n trotse draer van groen Akademiese Erekleure was. Sy was ‘n dame met ‘n sprankelende geaardheid en haar ywer vir werk is aansteeklik.
Amanda is besonder verbeeldingryk, toegewyd en lewer uitstaande werk. Sy is iemand wat slegs met die beste tevrede is en sy is geseënd met al die nodige kwalitieite om van die onderwys ‘n reuse sukses te maak.
In Januarie 1989 begin ‘n baie jong mejuffrou Cook by Laerskool Baanbreker se Gr 2 klas. Op 18 Maart 1989 verruil Amanda Cook haar nooiensvan vir Bacon, toe sy met Francis Bacon trou. Vanaf 1990 is sy by Gr 1 tot en met 2001.
Mev Bacon word aangestel as die graadhoof in 1994 by Gr 1 en in Junie 2001 word sy bevorder na Departementshoof. Vanaf November 2020 is sy in die pos as Adjunkhoof. Mnr Hoffmann het aan die einde van Januarie 2021 afgetree en mev Bacon het vanaf 1 Februarie 2021 ingestaan as Hoof van Laerskool Baanbreker.
Mnr en Mev Bacon het 2 seuns (Dylan en Robert) en is ook nou trotse grootoeuers van ‘n pragtige kleinkind. Mev Bacon is baie lief vir haar gesin en familietyd is belangrik vir haar.
Vanaf 1 Junie 2022 word Mev. Bacon aangewys as die nuwe skoolhoof van Laerskool Baanbreker. Mev Bacon is die eerste vroulike skoolhoof in die geskiedenis van die skool. Dit is opsigself baanbrekerswerk in eie reg.
Die skool se beheerliggaam wens haar alle voorspoed toe in haar nuwe pos en wil haar hartlik verwelkom en geluk wens met haar aanstelling as hoof. Ons vertrou dat, met die hulp en ondersteuning van die gemeenskap, ouers en personeel sy hierdie taak suksesvol sal kan aanpak. Onder haar leiding sal die skool aanhou groei as ‘n skool met sterk Banie waardes.
“Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geeis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word”, Lukas 12:48.
Visie van Amanda Bacon:
Omdat onderwys vir my ‘n roeping is, is die opvoeding van die leerders vir my meer omvattend as net akademie. My fokus rus op kwaliteitonderrig en akademiese uitnemendheid, die verbetering en ontwikkeling van ons fasiiteite asook om goeie sport en kulturele deelname te verseker.
Dissipline is vir my belangrik en ononderhandelbaar. Ek sien dit nie net as ‘n stel reëls wat gevolg moet word nie, maar eerder dat alle Banies mekaar met respek sal behandel, verdraagsaam teenoor mekaar sal wees en met integriteit saam met mekaar leef.
Dissipline skep juis ‘n veilige ruimte en gee orde waarbinne leerders suksesvol kan presteer en hul menswees ten volle kan uitleef. Dit is dus vir my baie belangrik dat die Banie-familie die Banie-waardestelsel sal koester en daarvolgens sal leef.
Deur my christenskap wil ek graag ‘n voorbeeld wees en Baanbreker se personeel en leerlinge geleenthede bied en ondersteun om hulle potensiaal ten volle te ontwikkel.
Elke kind en personeellid in die skool speel ‘n belangrike rol om te verseker dat Laerskool Baanbreker ‘n suksesvolle skool is. ‘n Skool waar kinders ten volle toegerus word om in enige hoërskool, van hul keuse, gelukkig en selfvervuld te wees.
Banies se waarnemende Adjunkhoof:
Anette Liebenberg is gebore op 31 Januarie 1957. Sy het haar Ondewysdiploma met lof voltooi in 1978 by Onderwyskollege in Pretoria.
Anette begin haar loopbaan as onderwysers by Laerskool Baanbreker vanaf Januarie 1979. Anette is getroud met Fred Gericke op 27 Julie 1984 en het 2 seuns (Liebrecht en George).
Hulle is die trotse oupa en ouma van 4 pragtige kleinkinders. Anette is bevorder na HOD in 2018 en is die grootste ondersteuner langs die sportveld.

Amanda Bacon

Anette Gericke