HS Robertson leerder wen goud by jaarlikse Kaapjag Intertak Spanskietkompetisie
Die afgelope naweek het die jaarlikse Kaapjag Intertak Spanskietkompetisie te Velddrif plaasgevind. Spanne van ses verskillende takke van reg oor die Wes-Kaap het aan hierdie kompetisie, waartydens ongeveer 100 skuts in uitdagende omstandighede (wind en hitte) om die gesogte trofee meegeding het, deelgeneem. Skuts het uit verskillende posisies (staande, sittend en lêend) na staal gongs, wat so groot soos pierings is, vanaf afstande van 140 tot 360 meter, geskiet.
Ivan Matthyser het as junior deelgeneem, maar was ook lid van die Wynland-tak se senior A-span. Hy is met ‘n goue medalje vir sy eerste plek as beste junior skut beloon. Hy het ook ‘n verdere goue medalje as lid van die Wynland-tak (Robertson) verower, toe hulle aan die einde van die toernooi as die wenspan met die loure weggestap het.