Paarl Interskole: HMS o.19A Netbal
Kom ondersteun die eerstespan netbal, Vrydag 29 Julie om 16:15 by HMS.
AWSUM het met hulle afrigter, Marli Visagie gesels.
Wat kan die skool en ouers hierdie jaar te wagte wees van julle span?
Verseker ‘n vol pawiljoen van toeskouers en old girls. Na die twee jaar van geen sport en buitemuurse aktiwiteite nie, is die mense honger om sport by te woon. Wat die wedstryd aanbetref, die netbal is baie gelyk en baie kompeterend
tussen ons twee skole. Die span wat hulle geleenthede gaan benut en die minste foute gaan maak, sal die wenner op die ou einde wees.
Waar sou jy sê lê julle krag hierdie jaar?
Ons span bestaan uit ‘n klomp “all rounders” wat dit baie lekker maak vir enige afrigter. Netbal is ‘n spansport en as die span se samehorigheid nie reg is nie, dan gaan jy sukkel op die baan. So dis waar ons span baie aandag aan gee. Ons probeer ‘n familie van 12 wees.
Wat is die moeilikste aspek van `n skole afrigter se taak?
Mense vergeet dat die spelers net 17 en 18 is. Baie goed gebeur in die stadium van ‘n tiener se lewe. Die netbal op skolevlak raak al hoe meer professioneel. Dis moeilik om die balans te handhaaf tussen skoolwerk, wedstryde, akademie, toernooie en dan hulle sosiale lewe. Hulle is per slot van sake nog net skoolkinders en nie professionele sportsterre nie. Ek moet sê die toernooie en akademiese tyd wat kinders verloor, maak hule ekstra gespanne. So balans sal ek sê, is die grootste uitdaging op die stadium.
Hier is die 0.19A netbalspan van HMS:
Lees die digitale weergawe van die AWSUM Interskole koerant aanlyn hier.