[Onderhoud] Adri Carstens: Eerstespan netbalkaptein van HMS
AWSUM het met Adri Carstens, HMS se eerstespan netbalkaptein oor Interskole gesels.
Wat is die hoogtepunt van julle span se seisoen sover?
‘n Groot hoogtepunt is definitief die Wildeklawer-toernooi waaraan ons in Kimberley deelgeneem het. Ons het baie goed gevaar en het dit reg gekry om die beker terug Paarl toe te bring.
Hoe motiveer jy jou span?
Dit is nie baie moeilik om die span te motiveer nie, omdat almal ‘n groot liefde en passie vir die sport deel. Ons is ‘n hegte eenheid en handhaaf goeie verhoudinge tussen mekaar, kommunikeer maklik en motiveer mekaar mooi. Ons coach, juf Marli, is nie net ‘n uitsekende netbalafrigter nie, maar sy skep `n veilige omgewing vir ons om onsself te wees. Dit maak dit moontlik vir die span om mekaar te ondersteun en opbouend te wees.
Wie is julle onderkaptein en hoe staan sy jou by?
Ons onderkaptein is Renezia Andrews. Sy speel hulpdoel en is ‘n baie veelsydige speler. Met haar aan my sy het ek nog nooit ‘n vervelige oomblik gehad nie. Renezia het ‘n wonderlike gawe om ‘n mens anders te laat dink oor ‘n situasie en ‘n swaarmoedige, gespanne atmosfeer ligter te maak, sodat ons op ons verantwoordelikhede kan fokus en ons doelwitte kan bereik.
Hoe is die samestelling van die span vir Interskole? Is daar enige beserings?
Ons is saam ‘n baie talentvolle en doelgerigte groep meisies wat baie passievol oor netbal is. Al tien meisies in die spangroep werk saam baie hard om ons doelwit vir Interskole te bereik. Een van ons verdedigende spelers, Kyla Dames, is nog besig om te herstel van ‘n kniebesering, maar ons glo en vertrou dat sy saam met ons op die baan gaan draf vir Interskole – reg om te speel.
Wat wil jul as `n span die jaar bereik? Wat sal jou trots maak?
Ons het verskeie doelwitte gestel om deur die loop van die jaar te bereik, maar uiteindelik kom dit neer op een hoof doelwit: Ons wil aan die einde van die jaar kan wegstap en sê dat ons nie net as span gegroei het nie, maar dat elkeen van ons besig is om ons volle potensiaal as jong netbalspeler te bereik. Dit sal vir my trots maak om te weet, dat die herinneringe wat ons op die baan maak vir elke meisie iets sal wees waaraan hulle kan terugdink en dat dit vir hulle geluk en vreugde sal bring. Hierdie herinneringe, insluitend die hoogtepunte en laagtepunte, moet vir ons nog steeds soos vandag, ‘n hoendervleis-gevoel gee.
Wat is jou planne vir die toekoms?
Ek gaan volgende jaar in Stellenbosch Bedryfsingenieurwese studeer. Netbal gaan definitief nog steeds ‘n groot deel van my lewe na skool wees. Ek is nie op die oomblik heeltemal seker waar ek gaan speel nie, maar speel gaan ek wel.
Lees die digitale weergawe van die AWSUM Interskole koerant aanlyn hier.