[Onderhoud] Juan Smal: o.19A rugbykaptein van HJS
AWSUM het met Juan Smal, Paarl Boys’ High se o.19A rugbykaptein gesels oor Interskole.
Wat is die hoogtepunt van jou rugbyloopbaan tot dusver en wat is die hoogtepunt van jou span se seisoen sover?
My hoogtepunt is definitief om die eerstespantrui aan te trek en ook om die kaptein van hierdie span te wees. Ek sal altyd Hoër Jongenskool Paarl op my hart dra en dis vir my `n eer om hulle te verteenwoordig. Daar is nie `n spesifieke hoogtepunt wat vir ons span uitstaan nie, maar wel hoe goed ons deur die jaar gegroei het – van waar ons was aan die begin van die jaar tot nou toe. `n Lekker wen was ons wen teen Helpmekaar, want ons was halftyd 16 – 8 agter by St John’s en in daai weer en modder het ons die tweede helfte teruggekom om die wedstryd 32 – 16 te wen.
Hoe motiveer jy jou span?
Van die begin van die jaar af het ons afrigter vir ons gesê die belangrikste aspekte waarvoor ons die jaar speel, is vir ons families en vir die Here. Meeste van die boodskappe wat ek vir die span deurgee, kom van die afrigter af, want hy is ‘n man wat ‘n baie groot invloed die jaar op my gehad het, nie net as speler nie, maar as ‘n jong man ook.
Wie is julle onderkaptein en hoe staan hy jou by?
Thurlon Williams, ons losskakel. Hy sal baie keer in die taai wedstryde die een wees wat my net bietjie kalmeer en my ook help met besluite op die veld. Oor hy ook die losskakel is, kan ek met hom praat wanneer ons pale en lyn toe skop.
Hoe is die samestelling van die span vir Interskole? Is daar enige beserings?
Ons het hierdie jaar ‘n paar beserings gehad, maar glad nie ernstige beserings nie, waarvoor ons baie dankbaar is, so ons span bly dieselfde soos ons nog heel jaar saam speel.
Is julle gelukkig met julle resultate as span die jaar?
Ek is gelukkig hoe ons as span gegroei het. Die twee wedstryde wat ons verloor het (Rondebosch en Grey Kollege), glo ek, het ons self weggegooi. So met Interskole gaan ons definitief nie weer teen onsself speel nie, want ons weet hoe groot die wedstryd is.
Wat verwag jy van Paarl Gimnasium Saterdag?
Interskole is altyd die grootste wedstryd van die jaar vir jou, maak nie saak hoe goed of hoe sleg enige van die spanne is nie. Op die dag is dit altyd ‘n taai wedstryd en ons verwag net dat dit ons taaiste wedstryd van die jaar gaan wees. Dit gaan die wedstryd wees wat ons seisoen gaan opsom.
Klik hier vir die o.19A HJS rugbyspan.
Lees die digitale weergawe van die AWSUM Interskole koerant aanlyn hier.