Hoërskool Ermelo skop krieketseisoen af
Hoërskool Ermelo se eerste- en o.16-krieketspan het op Vrydag 29 Julie hul krieketseisoen afgeskop. Dié twee spanne vorm hierdie jaar deel van die sogenaamde “Super-Liga” en het te staan gekom teen Hoërskool Secunda. By die o.16-span kolf EHS eerste en teken 368 lopies aan. Op hul beurt teken Secunda 369 lopies aan.
Dit was ’n goeie wedstryd waar die twee spanne goeie sportmanskap getoon het. EHS uitblinkers gedurende die wedstryd was EJ Venter, 154 lopies*, en Christiaan Horn met 107 lopies. Christiaan het ook drie paaltjies geneem. Tydens die eerste span se stryd wen die teenstanders die loot en nooi die Erries om eerste te kolf. Onder moeilike omstandighede teken EHS 159 lopies aan, almal uit. Die top lopiemaker vir die Erries was Rian Barnard met 44 lopies.
Secunda steek EHS se telling verby met slegs twee paaltjies plat en wen dus die kragmeting met 8 paaltjies. EHS se kaptein, Wian Swart, sorg vir een paaltjie en Kyle Steynberg vir die ander. Sterkte met die res van die seisoen, Erries.