Hoërskool Volksrust prinsipaal vier sy 61ste verjaarsdag
Mnr. Ferreira, ons hoof, ons mentor, ons voorman, ons leier, het op Sondag 7 Augustus 61 jaar oud geword en Volkies het ʼn besondere dag van gelukwense vir hom voorberei. Die personeel het heerlik saam ontbyt geëet op 5 Augustus en omdat daar ʼn langnaweek ter sprake was, het mnr. Ferreira die skool boonop vroeg laat uitkom!
Mnr. Ferreira het in 2005 by die Volkie-familie aangesluit as onderhoof. Hierdie werk het hy met passie en geesdrif voltooi. Hy het onder-andere Landbouwetenskap as ʼn vak begin by Hoërskool Volksrust en beslis sy merk op die hokkieveld gemaak. In 2011 word mnr. Ferreira aangestel as hoof en Volkies word beloon met ‘n wonderlike skoolhoof, ‘n ongeëwenaarde mentor, ‘n entoesiastiese onderwyser en ‘n visioenêr. Al hierdie rolle het mnr. Ferreira met ywer en dryf vervul. Ons is bevoorreg om hom as hoof en kollega te hê en wens hom die beste jaar ooit toe. Mag hy werklik geseënd wees en terugontvang al die geluk en voorspoed wat hy aan Volkies gee.