Hoërskool Ermelo leerders skitter in “Speeltoneel”
Erries skitter in “Speeltoneel”
Vier leerders van Hoërskool Ermelo het gedurende 2022 ingeskryf om deel te wees van Speeltoneel. Dié is ‘n reeks kortfilms wat op Via (kanaal 147) uitgesaai word en word geproduseer deur ABS-Produksies.

Tilana Uys
“Speeltoneel is ‘n geleentheid-gedrewe projek wat vir jong en ouer opkomende toneelspelers, dansers en sangers (vanaf 6 jarige ouderdom) die geleentheid bied om op nasionale televisie in ‘n kortfilm te speel, sing en dans.” (vanaf Speeltoneel-webwerf)
Die inskrywings vereis ’n video van die leerder wat ’n monoloog voordra. Na aanleiding daarvan word die leerders genooi vir oudisies in Pretoria. Die leerders wat tydens die oudisies gekies word om deel te wees van ’n kortfilm, moet werkswinkels bywoon en ’n dramakursus voltooi wat deur akteurs en kenners aangebied word, naamlik Izak Davel, Bradley Olivier, Desiré Gardner, Vilje Maritz, en Albert Maritz.

Talita Janse van Rensburg
Franco Gibbens en Tilana Uys wat beide in graad 8 in Hoërskool Ermelo is, is deel van die kortfilm “Busrit”. Dié is reeds vanaf 9 tot 13 Desember geskiet en is reeds vrygestel.
Marice de Jager, graad 10-leerder van EHS, is gekies vir die kortfilm “Lekker Kamp” wat op 17 en 28 Augustus verfilm word. Marice is deel van Speeltoneel Advanced en het ook vir Izak Davel as mentor.

Marice de Jager
’n Graad 11-leerder van EHS, Talita Janse van Rensburg, is gekies om in die kortfilm “Skool Skande” te speel. Dié kortfilm is reeds vrygestel.
Izak Davel het as mentor opgetree vir al vier hierdie leerders.
Baie geluk aan elkeen van hierdie leerders! Mag geleenthede soos dié jul pad verlig.

Franco Gibbens