[Onderhoud] Tanya Nieuwoudt: Eerstespan netbalkaptein van Hoër Volkskool
AWSUM het met Tanya Nieuwoudt, Hoër Volkskool se eerstespan netbalkaptein oor Interskole gesels.
Wat is die hoogtepunt van julle span se seisoen sover?
Die hoogtepunt van ons seisoen was ons toer Mosselbaai toe, waar ons uit 20 skole van reg oor die land, 11de geëindig het.
Hoe motiveer jy jou span?
As kaptein probeer ek my span motiveer deur eerstens myself moed in te praat en om my spanmaats se gemoed dan reg te kry vir die wedstryd. Ons het voor elke wedstryd ook `n spanpraatjie waar ons elkeen iets sê om mekaar te motiveer om as `n span gemotiveerd te wees. Gedurende die wedstryd probeer ons ook mekaar te ondersteun en op te bou.
Wie is julle onderkaptein en hoe staan sy jou by?
Gerslyn Swarts is ons onderkaptein vir 2022. Sy het `n baie rustige persoonlikheid wat my bietjie kalmer maak. Sy help my ook om die span moed in te praat en is `n ware staatmaker.
Hoe is die samestelling van die span vir die Interskole? Enige beserings?
Ons het `n hele paar beserings gedurende die jaar opgedoen en sukkel nog met `n paar. Ons meisies is baie sterk en druk deur – hulle hou nie op tot die einde toe nie.
Wat wil jul as `n span die jaar bereik? Wat sal jou trots maak?
As `n span en skool dink ek is ons doel om Interskole te wen, maar ook om net ons beste te gee en goed as `n span saam te speel. My span maak my al klaar trots deur met beserings te speel,omdat hulle regtig wil speel en saam wil speel. Hulle motiveer mekaar as hulle sien die ander een sukkel bietjie en hulle het soos familie geword.
Wat is jou planne vir die toekoms?
Ek gaan gaan au pair in Amerika en eers bietjie lewenservaring kry, terwyl ek seker maak wat ek wil doen vir die res van my lewe.