Op die AWSUM rusbank met Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria se hoofdogter vir 2022
Op die AWSUM rusbank met Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria se hoofdogter: Megan Kruger
Baie geluk met jou verkiesing as hoofleier by jou skool. Waarna sien jy die meeste uit tydens jou tydperk as leier by jou skool? Die komende jaar neig reeds in ‘n nuwe rigting, een gevul met nuwe hoop en baie verandering. Ek sien dus die meeste daarna uit om die skool te lei in die nuwe onbekende en elke stukkie daarvan te benut. Ek sien uit om ou tradisies wat nie kon plaasvind nie weer te vestig en tesame daarmee nuwe tradisies te stig wat altyd die aanduiding sal wees van ‘n nuwe era.
Wat sou jy sê is jou sterk- en swakpunte? My sterkpunte is beslis kommunikasie en praat. Ek dink altyd dis baie makliker om verandering te skep as jy persoonlik ‘n konneksie het met elkeen in jou span, en so konneksie kan slegs gevestig word deur met jou mense te kommunikeer. My swakpunt is beslis roetine, ek het die vermoë om impulsief ‘n ding te begin sonder dat dit in ‘n bepaalde roetine inpas. Vir party mense werk dit, maar om sekere mense se roetine om ver te gooi ontwrig die dinamika van die hele span. Ek sal dus beslis moet aandag gee aan my eie roetine en hoe dit die span kan bevoordeel
Is daar enige iets wat jy graag sou verander by jou skool? Ek sal verandering wil bring op verskeie velde, maar in besonder in twee spesifieke areas. Die eerste daarvan is die geestesgesondheid van die leerders. Na Covid is die lewe vir sekere mense baie swaar en ek wil graag my deel doen om weer hoop terug te bring. Voor Covid was skole vol geesdrif, passie en glimlagte, maar nou beskou baie dit as ‘n gemaskerde tronk. Ek dink dit is tyd dat “gees” weer terugkom in skole en dat daar net soveel gefokus word op geluk as op boeke. Verder wil ek ook verandering bring aan die leerders se idee van uitreike. Hoewel dit wonderlik is om na die gemeenskap toe uit te reik, moet mense partykeer net langs jou kyk om iemand in nood te help. Uitreike of liefdadigheid gaan nie net oor groot projekte vir ouetehuise of kinderhuise nie, dit gaan daaroor om mense te help wat dit nodig het. Ek wil dus hê ons moet net soveel fokus op interne uitreike soos eksterne uitreike.
Wat geniet jy die meeste van jou skool? So kontroversieel soos dit mag wees, is ek mal oor die feit dat dit slegs meisies is. Daar is so ‘n noue band tussen al die meisies en dit is iets wat mens nie aan ander kan beskryf nie. Die meisies is nie net saam jou in die klas of in ‘n span nie – hulle is jou sussies. Tussen al die vroue is daar ‘n kultuur wat gekweek word van uitnemendheid en harde werk, eienskappe wat ek glo slegs vanuit so groep dames kan ontstaan. ‘n Groep soos ons s’n skep ‘n atmosfeer van gemak en stylvolheid. Dit gaan daaroor om jouself te wees, maar ook om jouself met trots te dra en ek dink sulke eienskappe word net in ‘n meisieskool gekweek.
Matriek is jou laaste jaar- van ‘n akademiese oogpunt, wat sy graag wil bereik? Ek dink elke matrikulant van 2022 moet een kern akademiese aspek in gedagte hou – moet jouself nie met jou mede matrieks vergelyk nie. Na die inperking het elkeen besef wat werk vir hulle, en isolasie was nie vir almal ideaal nie. Dus dink ek die belangrikste vir almal, insluitend myself, is om ons oë gerig te hou op ons eie werk. My sukses kom nie in die vorm van onderskeidings nie, hoewel ek my doelwitte daar ook het, maar in die sekerheid dat ek ware volharding getoon het en te alle tuie na uitnemendheid gestrewe het. As ek met ‘n gevoel van tevredenheid uit elke vraestel kan stap, het ek my akademiese oogpunt beslis verwesenlik.
Enige boodskap van aanmoediging vir jou mede-leiers? Die pandemie het ons almal weer laat dankbaar voel, vir die kleinste goedjies. Vir die eerste keer in hoe lank was almal weer dankbaar dat hulle kon oefen in die buitelug, dat ons binne restuarante mag eet en om ‘n Vrydag-aand saam met ‘n vriendin te spandeer. My boodskap is dus eenvoudig – ons is almal weer dankbaar vir alles wat ons in die lewe het, maar ons moet altyd besef dat daar iemand anders is wat nie daardie selfde voorregte het nie. Dus, indien jy kan, reik uit na mense wat dit nodig het. My kern tema vir ons skool vir die jaar is 20-GEE-en-20, want ek glo 2022 moet ‘n jaar van liefde vir ons medemens wees en uitreik vir die gemeenskap, al is dit net om jou kos pouse met ‘n vriend te deel.
Wie is jou rolmodel? My persoonlike rolmodel is sonder twyfel Margaret Thatcher. Ook bekend as die “Iron Lady” want sy was die eerste Vroulike Eerste Minister van Engeland. Sy was leier van die land tydens enorme ekonomiese ressesies en politieke spanning. Ten spyte van alles wat haar in die gesig gestaar het, het sy by haar waardes gestaan en die welstand van mense geprioritiseer. Sy het ‘n goue beginsel gevolg, dat om die regte ding te doen, hoe moeilik dit ookal mag wees, altyd die pad tot satisfaksie is. Ek dink almal kan ongelooflik baie leer by haar, spesifiek oor hoe om jouself met trots te dra, al voel jy almal anders kyk neer op jou.
Wat is jou planne vir na skool? Ek sal baie graag ‘n regsrigting wil gaan studeer (ek oorweeg grade soos BacLLB en BcomLLB) en myself bemagtig in ons regstelsel. Na afloop van my studies, hopelik by die Universiteit van Stellenbosch, en ‘n paar jare se ervaring, sal ek baie graag betrokke wil raak in ons land se politiek. My hoofdoel is om verandering te bring, want ons land is so honger daarvoor, en ek is bereid om enige pad te volg wat die geleentheid vir verandering vir my sal bied. Ek is baie oopkop oor my toekoms en kies om nie te ver vooruit te beplan nie, ek volg immers net die pad wat God reeds vir my neergelê het. Ek het dalk op die beginpunt besluit, maar wat daarna gaan gebeur is iets waaroor ek myself in die toekoms sal bekommer.
As jy ‘n super-hero kon wees, wie sou dit wees en waarom? Indien ek ‘n superheld kon wees sou ek moes gaan met Batman, nie omdat hy die meeste geld of die beste kar het nie, maar om ‘n doodeenvoudige rede. Hy het nie ‘n enkele bonatuurlike krag nie. Hy kan nie vlieg nie, hy is nie onmenslik sterk nie en kan nie mense se gedagtes lees nie. Hy wys dat doodgewonde mense ook ‘n verskil kan maak indien hulle regtig omgee oor die welstand van hulle medemens. Superhelde is nie mense wat van ander planete afkom nie, dit is doodeenvoudige mense soos ek en jy. Dus is my gunsteling superheld Batman, wat sonder bonatuurlike vaardighede duisendes se lewens kon verander.
Op ‘n normale Saterdag, sal ons jou kry by… saam met… Op ‘n normale Saterdag, sal julle my kry by enige partytjie, braai of dalk net op die bank. My naweke is nooit volgens roetine beplan nie. Ek gaan waar ek genooi word ek pas my planne aan soos die naweek se koers verander. Daar is iets baie lekker daaraan om ‘n spontane Saterdag te hê. Of jy nou by ‘n 17de is, jouself by die Boeremark bevind en of mens by die huis lê en Netflix kyk, elke onbeplande oomblik moet gekoester word.
Wie is jou Hollywood ‘celeb crush’? Ek dink my antwoord gaan afhang van die TV-reeks waarmee ek besig is, elke nou en dan verander dit. Dit kan enige iets wees van Grey’s Anatomy se Derek Shepherd tot Suits se Harvey Specter. As ek egter ‘n Holywood-ster moet kies waaroor ek mal is, nie noodwendig ‘n crush nie, is dit beslis Meryl Streep – ‘n ongelooflike aktrise met verskeie prestasies agter haar naam. ‘n Baanbreker vir vroue en ‘n uitgesproke leier, werklik iemand wat my daagliks inspireer.
Kies een:
- Netbal, rugby, krieket of hokkie? Rugby, ek speel netbal en is mal daaroor, maar niks kom bo ‘n lekker Springbok-wedstryd op ‘n Saterdag saam met ‘n braai en jou familie nie.
- Cappuccino, warm sjokolade of tee? – Cappuccino, of enige vorm van koffie, ek kan nie daarsonder funksioneer nie.
- Braai saam met vriende of ‘n wegneemete? Braai saam met vriende, ‘n wegneemete is gerieflik, maar tyd saam met vriende kweek onvergeetlike herinneringe.
- Vir ure lank jou gunsteling TV-reeks kyk of ‘n musiekfees bywoon? Beslis ‘n musiekfees! Mens kan eendag as mens oud is voor die slegs voor die TV lê, maar terwyl mense kan moet mens unieke geleenthede aanpak, ek dink dit is iets wat Covid vir ons geleer het. Doen alles wat jy kan, want jy gaan dit baie mis as dit nie meer tot jou beskikking is nie.
- Andriod of iOS? iOS, sonder twyfel. Ek is nie te goed met tegnologie nie, so as ek eers aan een stelsel gewoond is, gaan dit baie vat om my van plan te laat verander.