HS Centurion Kwartaal 2 hoogtepunte
Woeries vier Hoof se verjaarsdag! Ons hoof se verjaarsdag was op 6 Mei met kolwyntjies en kleurvolle pret gevier. Ons wil elke Woerie bedank vir julle deelname om hierdie dag vir mnr. Koekemoer spesiaal te maak.
LUGPISTOOL- EN LUGGEWEERSKIET. Die naweek van 22 tot 23 April, was die Suid-Afrikaanse Skole Skutters Unie (SANSSU) se SA kampioenskappe in Bloemfontein aangebied. Die land se top lugpistool- en luggeweerskuts is uitgenooi om deel te neem. Hierdie deelname kan vir die skuts ‘n moontlike plek in die SA skolespan se toer na Engeland later die jaar besorg. Hier sal hulle dan aan die “UK Bisley Competition” deelneem wat vroeg in Augustus plaasvind. Kristian-Leigh Cockrell (gr. 11) is uitgenooi om aan die o.21-lugpistoolkategorie deel te neem. Sy eindig 5de in die lugpistoolafdeling en algeheel 6de in die toernooi (luggeweer en lugpistool gekombineerd). Hierdie puik prestasie het vir haar ‘n plek in die SA span verseker. Slegs die top 21 skuts word na Engeland geneem. Die toer sal vanaf 1 tot 13 Augustus 2022 plaasvind.
Kristian-Leigh Cockrell (gr. 11)
Hoërskool Centurion Adjunkhoof as Voorsitter van Gauteng-Skolekrieket verkies. Ons is trots daarop dat ons adjunkhoof van buitekurrikulêre aktiwiteite die afgelope naweek as die voorsitter van Gauteng-skolekrieket verkies is. Die aanstelling bring mee dat hy vir die volgende drie jaar op die SA skolekrieketkomitee sal dien.
Buiten dat hy reeds voorsitter van Titans-skolekrieket is, dien hy ook as voorsitter van die Finsbury Superliga en die Nasionale Noord-Suid T20-kompetisie. Hy is ook die sekretaris van Noordvaal-skolekrieket.
Tennis teen Zwartkop.
Baie geluk aan die eerste seunstennisspan wat onoorwonne in hulle liga geëindig het, nadat hulle Vrydagmiddag met Zwartkop afgereken het. Hulle het met 49 stelle teenoor 18 as oorwinnaars uit die stryd getree.